‘n Hartseer put van wonderwerke

Quote

Die woord hartseer is so beskrywend, dit vra nie vra nie, dit sê presies wat dit is, sonder dat jy daaroor hoef te tob. Dit is ‘n seer hart. Metafories gesproke as ‘n reël, maar enige persoon wat al ooit regte hart_seer ervaar het, sal weet dat jou fisiese hart pyn, want jou hele wese trek saam, op ‘n knop jou bloeddruk styg of val en alhoewel ek geen Dr is nie, weet ek voor my liewe siel dat dit ‘n uitwerking op die hartspier het.

So moet die verlies van ‘n kind wees, hart seer, nee hart verskeurend, harts verlies, is daar ‘n woord soos hart dodend. Ek dink aan sieldodend.

18 Junie is vir my ‘n bittersoet dag en sal vir altyd bly, ek het al voorheen op hierdie platform daaroor gepraat, maar moet net sê toe ek op 18 Junie 2012 my miskraam ervaar was die vrae baie en die antwoorde min. ‘n Diep hartseer het my ontvou tot so ‘n mate dat ek nie kon funksioneer nie. Ek het God geteister met vrae en irrasioneel geblameer vir alles. Sy enigste antwoord, ek hou altyd My beloftes.

18 Junie ‘n bittersoet dag, want op 18 Junie 2013, presies ‘n jaar na my miskraam gee ek geboorte aan die mooiste seuntjie, wie kan sê daar is nie ‘n God wat beloftes nakom nie.

Gister was ook 18 Junie, 6 jaar oud is my klein wonderwerk, maar my HARTSEER is diep, want my vriendin hou op hierdie dag begrafnis vir haar wonderwerkie wat op 3 jaar oud te vroeg van hul familie geneem is. Daar is geen woorde waarmee ek haar kan ondersteun nie, geen drukkie wat dit gaan beter maak nie. Ek kan nie my hand binne haar plaas en haar seer hart omvou en streel nie, inteendeel, dit mag dalk net meer skade doen.

Hartseer bring baie trane en waar water is, is lewe. Ek weet daar is lewe na hartseer, dit is verseker nie dieselfde lewe nie, daardie lewe is onherroeplik verander, maar lewe is daar tog en soms, net soms lê daar wonderwerke in die diep put van jou hartseer.

Ek bid vir my vriendin en haar familie ‘n mooi wonderwerk uit hul hartseer.